Globale verhitting ‘gaan 1,5 grade Celsius-perk verbysteek’

Globale verhitting weens die verbranding van fossielbrandstowwe wat deur die El Niño-weerverskynsel vererger word, gaan die temperature in Mei tot 1,7 grade Celsius bo die gemiddeld voor industrialisasie laat styg. So waarsku ʼn voormalige wetenskaplike van die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie, James Hansen. Regerings wat verlede maand die Verenigde Nasies se klimaatsberaad in Dubai bygewoon het, het die Paryse Ooreenkoms van 2015 bevestig om die wêreldwye styging in temperature onder 1,5 grade te probeer hou. Hansen sê doelgerigte pogings is nodig om die wêreld se energiebalans te behou.