GIPF blootgestel met Russiese belegging

Die Regeringsintansies Pensioenfonds is tans kwesbaar omdat hy 568 miljoen Namibiese dollar in Russiese beleggings het. Dit vorm ongeveer 0,42 persent van sy totale beleggings van 135 miljard Namibiese dollar. Volgens plaaslike media het die fonds geen verdere inligting bekend gemaak nie maar sê die situasie rondom Oos-Europa en die gepaardgaande sanksies teen Rusland word fyn dopgehou. Die fonds se uitvoerende hoof David Nauyoma sê hulle word gereeld blootgestel aan internasionale wendings, omdat hulle internasionaal belê. Hy voeg by dat die fonds ‘n langtermyn belegger is en dus word daar geen haastige besluite gemaak nie en sy beleggingseenheid sal die nodige stappe neem om die fondse te beskerm. Rusland het volgens berigte buitelandse beleggers verbied om enige fondse uit die land te onttrek. Daar is die week berig dat die Suid-Afrikaanse miljardêr Johan Rupert amper 19 miljard Namibiese dollar verloor het sedert Rusland die Oekraïne ingeval het.