Gibeon kry begroting
Die voorsitter van die Gibeon-dorpsraad, Sharon Bezuidenhout, het bevestig dat ‘n begroting van 5 miljoen Namibiese dollar vir die dorp goedgekeur is. Dit kom na ‘n onlangse herrie omdat die raad slegs 3 000 dollar vir sy ontwikkelingsbegroting gekry het. Daar was menings dat dit handel oor die verskille tussen die regerende Swapo-party en die LPM wat die Suide beheer. Die lynminister, Erastus Uutoni, het toe gesê die begroting het niks te make met politieke verskille nie. Volgens plaaslike media het hy nou gesê die 3 000 dollar was om die raad se bankrekening aktief te hou, omdat die leierskap versuim het om ‘n ontwikkelingsbegroting by die ministerie in te dien, soos wat prosedure is.