Ghislaine Maxwell se vervreemde man betaal nie haar regskostes
Ghislaine Maxwell se kans om te appelleer is in gevaar omdat haar vervreemde man glo weier om haar regskostes te betaal. Die 60-jarige Maxwell is vroeër die jaar tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir haar rol in Jeffrey Epstein se sekshandelskema. Sy is in ’n laesekuriteittronk in Florida. Haar vervreemde man, Scott Borgerson, wat haar glo oor die foon gelos het, ignoreer glo haar versoeke vir 1 miljoen Amerikaanse dollar. Die 45-jarige Borgerson beheer amper al Maxwell se geld en hy is glo die rede dat haar regskostes nie betaal word nie. Maxwell se regspan kan nie begin werk aan haar appèl voordat hulle betaal word nie en die afsny-tydperk vir appèl is die einde van Januarie. As die appèl nie ingedien word nie, kan Maxwell agter tralies sterf.