Geweld dwing Britse leier tot noodvergadering
‘n Nag van geweld in drie Britse stede het eerste minister Keir Starmer gedwing om ‘n noodvergadering met polisie-aanvoerders te belê. Verregse elemente het betoog na Maandag se massa-steekvoorval in die kusoord Southport waarin drie klein dogtertjies dood is. Betogings het Londen gisteraand geskud, asook die noordelike stede Hartlepool en Manchester, met meer as 100 mense wat in die hoofstad aangekeer is. Waninligting op sosiale media oor die identiteit en agtergrond van die 17-jarige verdagte het daartoe gelei dat betogers ‘n plaaslike moskee aangeval het.