Gevalle van masels in Gauteng aangemeld

Die Suid-Afrikaanse gesondheidsminister, dr. Joe Phaahla, het ‘n beroep om kalmte en waaksaamheid van landsburgers gedoen ná gevalle van masels in Gauteng aangemeld is. Oor die laaste twee weke van Mei is vier gevalle van masels by persone in Gauteng vermoed en uiteindelik bevestig deur laboratoriumtoetse wat deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes uitgevoer is. Drie van hierdie gevalle is individue wat in Tshwane woon, wat beteken dat die Tshwane-metro tans ‘n uitbreking van masels ervaar. Die vierde geval is ‘n individu wat in die Wes-Rand van Gauteng woon. Al vier individue is tans in isolasie en besig om te herstel. Die gesondheidsowerhede in die geaffekteerde gemeenskappe werk tans aan kontak-opsporing.