Geval van atipiese malbees-siekte in VSA bevestig

Amerikaanse owerhede het ‘n atipiese geval van “malbees-siekte” by ‘n slagaanleg in die staat Suid-Carolina bevestig. Die Amerikaanse departement van landbou sê in ’n verklaring die dier het nooit slagkanale betree nie en dat daar geen risiko is nie. Sogenaamde malbees-siekte, bekend as BSE, word gekoppel aan die dodelike Creutzfeldt-Jakob-siekte as besmette vleis geëet word. Die atipiese variant kom sporadies by ouer beeste voor, terwyl die klassieke vorm versprei word wanneer boere hul kuddes met die vleis- en beenmeel van besmette diere voer. Die klassieke vorm van BSE hou meer gevaar vir mense in.