Oekraïne skiet 18 Russiese hommeltuie af
Oekraïne se ministerie van verdediging sê hy het 18 van die 24 kamikaze-hommeltuie wat Rusland vroeër vanoggend in die hoofstad Kiëf gelanseer het, neergeskiet. Terselfdertyd het ‘n hommeltuig ‘n olie-raffinadery in die suide van Moskou getref en ‘n deel daarvan aan die brand gesteek. Die brand is geblus en geen ongevalle is aangemeld nie. Die jongste aanval volg ‘n dag nadat Moskou Oekraïne beskuldig het van ‘n sluipmoordaanval op President Vladimir Putin by die Kremlin. Dié aantyging word ten sterkste deur Kiëf ontken. Oekraïnse President Volodimir Zelensky sal vandag die Internasionale Strafhof in Den Haag in Nederland toespreek.