Geskiedkundige Africa Aquatics Sone-kampioenskap op pad

Die Afrika-beheerliggaam vir swem is onlangs herdoop tot Africa Aquatics, en die geskiedkundige eerste Afrika Sone 4-swemkampioenskap onder die Africa Aquatics-vaandel vind volgende maand by die Olympia-swembad plaas. Die swem- en oopwaterswemkampioenskap, ondersteun deur Debmarine en die Pupkewitz-stigting, sal 370 swemmers, 30 afrigters, 70 beamptes en 40 vrywilligers na Windhoek bring. Al 13 lidlande van Sone-4, asook twee genooide Sone 3-lande, Tanzanië en Uganda, sal van 4 tot 8 Desember deelneem. Dis die eerste keer sedert 2019 dat Namibië hierdie vertoonstuk aanbied. Verlede jaar het Angola die kampioenskap aangebied, waar Namibië uitstekend gevaar het met 37 medaljes.