General Motors se Cadillac betree F1
Formule Een het in beginsel ʼn ooreenkoms met die Amerikaanse motorreus, General Motors, bereik dat sy Cadillac-handelsmerk van 2026 af as die elfde span sal deelneem. F1 het elke seisoen drie wedrenne in Amerika. General Motors se president, Mark Reuss, sê hulle is daartoe verbind om met passie en integriteit deel te neem om die sport wêreldwyd vir wedren-ondersteuners beter te maak. GM se toetrede sal die getal voertuigvervaardigers wat enjins vir F1 bou tot ses vermeerder. Die ander is Mercedes, Ferrari, Ford, Honda en Audi.