Geingob na Korea-Afrika-beraad 2024 uitgenooi

President Hage Geingob is deur die Suid-Koreaanse President, Yoon Suk Yeol, genooi om die 2024 Korea-Afrika-beraad by te woon, wat daarop gemik is om bande oor die blou ekonomie en maritieme kwessies te versterk. Suid-Korea se spesiale gesant Park Heong-joon het tydens ‘n hoflikheidsbesoek by Staatshuis gesê sy besoek het ook ten doel om samewerking te versterk en om Namibië se steun te kry vir Suid-Korea om die Wêreld Ekspo 2030 in Busan aan te bied. Hy het verder aangedui dat Suid-Korea belangstel in Namibië se beoogde groenwaterstof-sektor en toerismebedryf vir beleggings wat daarop gemik is om volhoubare ontwikkeling tot wedersydse voordeel van beide lande te bevorder.