Geingob is doodstil oor gay-huwelik kwessie, WhatsApp-groep

President Hage Geingob, sowel as die Presidentsvrou Monica Geingos, is doodstil oor die kwessie van gay-huwelike wat die nuus in die land oorheers. Inteendeel, Geingob het laas op Moedersdag enigiets op sy sosiale media platforms geplaas en Geingos gesels oor geslagsgeweld en die bemagtiging van die jeug. Intussen het die presidensiële woordvoerder Alfredo Hengari, wat tans in Saoedi-Arabië is, getwiet dat die “Namibiese Huis gaan oor hande vat, inklusiwiteit, verdraagsaamheid, onafhanklikheid van die regbank en respek vir die oppergesag van die reg as kenmerke van ons doeltreffende bestuursargitektuur”. Hy het reaksie uitgelok omdat daar in verskeie sektore van die samelewing vrese is vir geweld. Omar van Reenen, stigter van Equal Rights Namibia, wil weet wanneer die president mense tot orde gaan roep terwyl ander sê dat dit kommer wek dat regeringsamptenare betrokke is by groepe wat die basiese regte van Namibiërs ondermyn. Swapo het reeds sy standpunt teen die LGBTQ-gemeenskap uitgespreek en terwyl die LPM sê hy verwelkom alle Namibiërs, sê die PDM en die IPC dat hulle nog vergader oor die kwessie en binnekort verklarings sal uitreik.