Geen borgtog vir Kongolese met byna 19kg se dagga

Twee Kongolese mans wat Maandag in Otjomuise gearresteer is in besit van amper 19 kilogram se dagga ter waarde van 930 500 Namibiese dollar, is borgtog geweier in die Katutura landdroshof. Bwanga Bonifus en Simba Gabriel is aangekla van besit en handel in dagga. Kasale Kasale, staatsaanklaer, het borgtog teengestaan op grond daarvan dat ondersoeke nog in ‘n vroeë stadium is, die waarde van die betrokke dwelms hoog is en dat die verdagtes ‘n vlugrisiko inhou. Landdros Wilka Amalwa het die saak tot 26 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagtes het die Windhoek-gebaseerde prokureur Mbanga Siyomundji opdrag gegee om hulle te verteenwoordig.