Gedeeltelike sluiting van VSA-regering net-net vermy

Die Amerikaanse kongres het ʼn gedeeltelike sluiting van die regering naelskraaps vermy deur ʼn korttermyn-bestedingswetsontwerp te aanvaar. Die wetgewing is goedgekeur nadat 107 Republikeine en 207 Demokrate dit ondersteun het. Dit is die derde tussentydse bestedingsmaatreël van hierdie fiskale jaar en sal die regering se befondsing tot vroeg in Maart op die huidige vlakke hou. President Joe Biden moet nou die befondsingswetgewing onderteken. Die meerderheidsleier in die senaat, die Demokraat Chuck Schumer, sê die wetsontwerp is ʼn noodsaaklike maatreël wat wetgewers meer tyd sal gee om te onderhandel oor ʼn begrotingswetsontwerp vir ʼn hele jaar.