Gasvryheidsektor toon veerkragtigheid

Namibië se gasvryheidsektor het veerkragtigheid getoon in Oktober, met nasionale besettingsyfers wat bestendig was op 65.5 persent, in ooreenstemming met die syfers vir September. Dit was aansienlik hoër as die 54.6 persent besettingskoers in Oktober verlede jaar, sê Simonis Storm in sy jongste verslag. Volgens die Gasvryheidsvereniging van Namibië is 89,6 persent van die besetting aan ontspanningsreisigers toegeskryf. Besetting deur sakereisigers was op 9,9 persent gemeet, wat effe laer was as die 10,1 persent in September, maar ‘n aansienlike toename in vergelyking met die 2,7 persent-koers wat in Oktober verlede jaar gemeet is. Konferensiereisigers het egter slegs 0,4 persent van die besetting in Oktober uitgemaak, af van 1,2 persent in September.