G7-beraad gaan nuwe stappe teen Rusland instel
Die leiers van die sewe grootste ekonomieë in die wêreld, wat in Hiroshima in Japan vir die G7-beraad byeen is, sê dat daar nuwe stappe gaan wees teen Rusland om te verseker dat sy aggressie teen ‘n soewereine land misluk. Die G7-lande sê hulle is opnuut daartoe verbind om Oekraïne geldelik en militêr te ondersteun. Die G7 sê Oekraïne sal genoeg befondsing hê vir vanjaar en ook vir vroeg aanstaande jaar. Die Oekraïnse President, Volodimir Zelensky sal Sondag by die beraad aansluit. Indiese eerste minister, Narendra Modi, gaan met Zelensky by die beraad vergader. Zelensky gaan onderweg na Japan, Saoedi-Arabië besoek waar hy met die Arabiese Bond gaan vergader.