Frack Free Namibia vaar uit oor ReconAfrica

Frack Free Namibia sê in ‘n verklaring dat ReconAfrica met sy hande in sy hare sit en alles in die stryd werp om sy voortgaande eksplorasie in die Kavango-bekken te verdedig. Die drukgroep, wat teen die eksplorasie gekant is, sê die Kanadese olie-reus het aanvanklik gepraat van ‘n moontlike oliebron van 12 miljard vate olie teen ‘n diepte van net meer as 9 100 meter. Maar, Frack Free voer aan dat die maatskappy se putte op ‘n onverklaarbare diepte van tussen 2 000 en 2 700 meter gestaak is, 7 000 meter kort van sy sogenaamde bron. Die uitslae van die putte was nie belowend nie en nou, volgens Frack Free, wil Recon sy geologiese aanslag aanpas om sy boorwerk voort te sit. Die drukgroep is warm onder die kraag omdat Recon aansoek gedoen het om 2D-seismiese opnames oor albei Kavango-streke uit te voer, al het hy reeds data van 2 800 vierkante kilometer bekom.