Fonds vir wildprodukte loop ook deur onder ouditeur-generaal

Plaaslike berigte lui dat die ouditeur-generaal sy kommer uitgespreek het oor die finansiële stand van sake by die Namibiese Wildprodukte-trustfonds. Die fonds beskik uit miljoene Namibiese dollar wat deur die verkoop van wildprodukte ingewin word. Junias Kandjeke het vir die boekjaar tot Maart 2021 ‘n ongunstige ouditmening oor die fonds uitgespreek. Daar was verskeie ongerymdhede wat hy opgemerk het. Meer as 4,2 miljoen dollar se fakture vir trofeejagte is nie gedateer vir die betrokke boekjaar nie wat beteken die fonds oorskat sy werklike inkomste. Die fonds het ook 5 miljoen Namibiese dollar aangeteken in Oktober 2020 vir die verkoop van buffels wat eers in Junie 2021, buite die boekjaar deurgevoer is. Ondersteunende dokumente vir die jag van twee leeus ter waarde van 3,26 miljoen dollar ontbreek ook en dus kan die fonds nie bepaal presies wat betaal is nie. Die fonds het ook geen boekhou-stelsel wat hy kan gebruik om sy transaksies te prosesseer nie.