FlyNamibia se Lüderitz-vlugte sal handel, toerisme bevorder

FlyNamibia se amptelike inhuldiging van sy nuwe vlugroete tussen Windhoek en Lüderitz sal na verwagting handel en toerisme bevorder en verdere internasionale beleggings lok, wat ‘n blink toekoms vir Lüderitz aandui. Die burgemeester Benjamin McKay bestempel die roete as ‘n mylpaal vir die Buchter-gemeenskap en die breër sakesektor. Die inhuldiging is bygewoon deur hooggeplaastes soos onder meer die ambassadeur van Frankryk in Namibië, Sebastien Minot, Laurent Roche, voorsitter van TotalEnergies Namibia en Aletta Fredrick, goewerneur van Karas-streek. Volgens die besturende direkteur van Fly Namibia, Andre Compion het Total Energies Namibia weens sy betrokkenheid in die aflandige olie- en gasbedryf ‘n groot rol gespeel in die vestiging van die roete.