Florin hoor môre of hy bly of ry

Thomas Florin sal na verwagting môre weet of sy aansoek om vrylating, wat hy reeds as ‘n dringende aansoek in 2020 gebring het, suksesvol was of nie. Regter Shafimana Ueitele het die saak verlede week Vrydag tot môre toe uitgestel. Florin is in Desember 1999 skuldig bevind aan die moord van sy vrou Monica in Junie 1998. Die moord het groot opslae gemaak omdat hy haar oorskot gekook het. Haar skelet is in die plafon van hulle huis versteek. Florin is aangekeer net voor hy die land wou verlaat met sy twee klein kinders. Hy is lewenslank, wat plaaslik 25 jaar beteken, tronk toe gestuur. In sy aansoek haal hy verskeie wetgewing, sowel as ‘n hooggeregshof beslissing aan wat hy meen beteken hy moes reeds na 16 jaar en agt maande vrygelaat gewees het.