Florida-goewerneur se veldtog skop chaoties op Twitter af
Die goewerneur van Florida, Ron DeSantis, het vandag ‘n chaotiese begin van sy 2024 presidensiële verkiesingsveldtog beleef toe foute ‘n aanlyn forum wat deur Twitter-eienaar Elon Musk aangebied is, bederf het. Die Twitter-uitsending van die uurlange onderhoud, wat bedoel was as die formele bekendstelling vir die DeSantis-veldtog, het vir lang tye klank verloor en duisende gebruikers kon óf nie aansluit nie óf het moed opgegee. Die hutsmerk #DeSaster was gewild op Twitter. Die 44-jarige DeSantis word beskou as Donald Trump se hoof-mededinger vir die Republikeinse Party se benoeming. Trump het nie geskroom om op sy sosialemediaplatform, Truth Social, vir DeSantis te spot oor die struikelende begin van sy veldtog nie.