Fishrot weer vertraag met daglange Shanghala-aansoek

Die Fishrot-verhoor het steeds nie begin nie. In Vrydag se verrigtinge het oudminister Sacky Shanghala die hele dag opgeneem met sy ex parte aansoek wat nie net die regter, Moses Chinhengo, se aanstelling bevraagteken nie, maar ook aanvoer dat die staat verantwoordelik is vir vertragings in die hoofverhoor deur sleutelinligting en bewyse te weerhou. Hy bevraagteken ook die gesag van aanklaer Cliff Lutibezi. Die staat voer aan dat die aansoek eers na die verhoor voor die hof gebring moet word. Hulle hou vol dat Shanghala se beroep op Artikel 319 voortydig en verkeerd is, en dus moet die aansoek van die hand gewys word. Uitspraak sal op 8 Augustus gelewer word.