Fishrot se Tamson doen aansoek om borg, onseker oor Nigel van Wyk

Fishrot-verdagte Tamson Hatuikulipi kom vandag voor regter David Munsu vir ‘n borg aansoek. Daar is vroeër berig dat Nigel van Wyk ook vandag aansoek om borg sal doen maar sy naam is nie op die hofrol nie. Van Wyk, wat werksaam was by die voormalige justisieminister Sacky Shanghala, het in 2017 uit sy pos as senior regsklerk bedank en vir Shanghala by Olea Investments begin werk. Daar word gesê hy is 1,9 miljoen Namibiese dollar betaal van maatskappye wat deur Shanghala sowel as James Hatuikulipi en sy neef Pius Mwatelulo, besit word. Die geld is na bewering na Van Wyk se persoonlike rekening by Bank Windhoek oorgeplaas. Die Teenkorrupsie-kommissie het Van Wyk blykbaar in Shanghala se huis betrap waar hy dokumente en meer uit die huis verwyder. Tamson Hatuikulipi is voormalige visseryminister Bernhardt Esau se skoonseun.