Fietsryers haal uit by Virgin Active Ride Joburg-wedren

Namibiese fietsryers het uitstekend gevaar in Sondag se Virgin Active Ride Joburg-wedren oor 97 kilometer deur die strate van Johannesburg. Vera Looser het net-net tweede gekom in die elite-vroueresies, in dieselfde tyd van 2 uur, 46 minute en 44 sekondes as die res van die topdrie oor die wenstreep. Suid-Afrika se S’Annara Grové was die wenner en Haley Preen was derde. Anri Greeff het 17de geëindig in ‘n tyd van 2 uur, 49 minute 40 sekondes. Rosemarie Thiel het die junior meisies-resies in 2 uur, 53 minute en 9 sekondes gewen, en algeheel 23ste in die vroueresies geëindig. Alex Miller het vyfde gekom in die elite-mansresies en het die lyn saam met drie ander oorgesteek in 2 uur, 10 minute en 31 sekondes, net ‘n sekonde agter die wenner, Ryan Gibbons. Die Suid-Afrikaans gebore Windhoeker Marc Pritzen was in die 15de plek in 2 uur, 10 minute en 33 sekondes.