F1: Wolff teken vir nog drie jaar

Mercedes se Formule Een-spanhoof, Toto Wolff, het ʼn nuwe ooreenkoms onderteken en sy kontrak vir drie jaar tot einde 2026 verleng. Die 52-jarige Wolff wat ʼn derde van Mercedes F1 besit, is sedert Januarie 2013 by die span. Hy het hulle van 2014 tot 2021 tot ʼn rekord van agt agtereenvolgende Vervaardigerskampioenskappe gelei. Die Silver Arrows het slegs een wedren gewen sedert Formule Een se regulasies twee jaar gelede hersien is en verlede jaar het hulle geen oorwinning behaal nie. Wolff sê hy bly vol hoop dat hulle hierdie seisoen Red Bull se oorheersing kan uitdaag.