Europese boere sat vir goedkoop Oekraïnse graan-invoere

Duisende boere het regoor Roemenië betoog oor die impak van Oekraïnse graan-invoere op pryse. Die boere het verkeer ontwrig en grenskontrolepunte met trekkers en vragmotors versper, en die Europese Kommissie aangemoedig om in te gryp. Woede neem toe onder boere in Sentraal- en Oos-Europa oor ‘n vloed van goedkoop Oekraïense graaninvoere, vrygestel van doeanegelde tot Junie 2024, wat pryse en verkope van plaaslike produsente knou. Oekraïne, een van die wêreld se grootste graanuitvoerders, se Swartsee-hawens is geblokkeer ná Rusland se Februarie 2022-inval en het alternatiewe skeepsroetes deur die Europese Unie-state Pole en Roemenië gevind. Maar miljoene ton graan – goedkoper as dié wat in die EU geproduseer word – het in buurlande beland, aangedryf deur logistieke knelpunte en korter afstande. Poolse en Bulgaarse boere het ook betogings gehou.