EU sal aanspreeklikheid vir Navalny verseker

Die Europese Unie se hoof van Buitelandse Beleid, Josep Borrell, het belowe dat die Russiese president, Vladimir Putin, aanspreeklik gehou sal word vir die dood van Alexei Navalny. Die 47-jarige was een van Rusland se belangrikste opposisiefigure en is in ‘n Arktiese tronkkolonie dood waar hy ‘n termyn van 19 jaar uitgedien het vir aanklagte wat as polities gemotiveerd beskou is. Borrell sê ingevolge die EU-blok se 13de sanksiepakket behoort die Russiese tronkbeamptes wat met Navalny se dood verbind word, se bates bevries te word met ‘n verbod op reis.