EU kap Griekeland oor Turkse vlugtelinge
‘n Senior amptenaar van die Europese Unie het Griekeland gestriem vir sy beweerde deportering van vlugtelinge na Turkye. ‘n Video wat versprei is toon hoe mense in uniform ‘n groep migrante in ‘n boot op die Egeïese See uitneem waar hulle op ‘n vlot oorgeplaas en skynbaar aan hul lot oorgelaat word. Die Turkse kuswag het die mense vermoedelik later gevind. Die amptenaar, Ylva Johansson, sê indien die voorval wel gebeur het, is dit onaanvaarbaar. Die Griekse regering het volgens berigte reeds met ‘n ondersoek na die gebeure begin.