Etunda verwag 600 ton oes, kan 10 000 haal as hy alles aanplant

Die bestuurder van die Etunda groenskema, Sacky Shilyomunhu, het aan plaaslike media bevestig dat die skema 700 hektaar met mielies aangeplant het en dat daar ‘n oes van ongeveer 600 metrieke ton verwag word. Die oes behoort teen Mei en Junie vanjaar in te kom. Die skema, ongeveer 45 kilometer noord van Outapi, bestaan uit 1 200 hektaar. Shilyomunhu sê daar is vanjaar geen tekort aan toerusting nie en kleinskaalse boere sal bygestaan word om hulle aanplantings, ook van groente te doen, alhoewel Amta nog nie aangedui het dat hy wel die boere se oeste sal opkoop nie. Etunda kan twee keer ‘n jaar mielies plant en sou hy sy grond benut, kan die skema tot 10 000 metrieke ton oes.