Erongo-polisie sê oor baba, die pa en vermiste ma

Die Erongo-polisie sê lede van die Namibiese Vloot het vroeg Donderdagoggend op die lyk van ‘n drie maande oue babameisie in ‘n vlak graf langs die see ontdek. Die voorlopige ondersoek toon dat Ashley Mudimu, die kind se ma en ‘n 24-jarige Zimbabwiese burger Woensdag deur die kêrel, ook ‘n Zimbabwiese burger, saam met hulle baba by die huis gelaat is, en nie later met sy terugkeer daar gevind is nie. Hy het haar uiteindelik as vermis aangemeld. Daar word vermoed dat Mudimu die baba vermoor en begrawe het. Die pa het reeds sy kind uitgeken en die soektog is aan die gang vir die ma. Die kêrel is deur die polisie aangehou in ‘n saak wat met immigrasie verband hou.