Elektrifisering vorder in hoofstad

Inwoners van veral informele nedersettings kla oor die tekort aan dienste en straatligte veral omdat misdaad algemeen voorkom. Die Stad Windhoek het sowat 3 515 huishoudings in die informele nedersettings rondom die hoofstad oor ‘n tydperk van vyf jaar teen 45 miljoen Namibiese dollar geëlektrifiseer. Dit is volgens burgemeester Joseph Uapingene, wat tydens die amptelike inhuldiging van die informele gebiede-elektrifiseringsprojek in Havana-uitbreidings 6 en 7 gepraat het. In Havana uitbreidings 6 en 7 fase twee, is 105 huishoudings geëlektrifiseer uit ‘n totaal van 162 huise. Die res sal voltooi word sodra die aanstelling van ‘n hulpeenheidstarief elektriese kontrakteur teen die einde van die maand gefinaliseer is. Vyftig straatligte is ook in die area aangebring.