Ek is nie jou ma nie…

Twee Kanadese mans het per toeval onlangs ontdek dat hulle by geboorte omgeruil is. Na byna 70 jaar ná die lewensveranderende fout het hulle ‘n formele verskoning van die regering ontvang.

Richard Beauvais en Eddy Ambrose, albei 68, is volgens die BBC op dieselfde dag in dieselfde hospitaal in Arborg, Manitoba, in 1955 gebore.

’n Groot fout in die hospitaal het egter daartoe gelei dat Beauvais en Ambrose deur mekaar se biologiese ouers huis toe geneem is.

Die twee mans het Donderdag langs mekaar gesit om te hoor hoe Manitoba se premier, Wab Kinew, formeel om verskoning vra vir die jare wat hulle weg van hul onderskeie biologiese families deurgebring het.

Foto: YouTube/ The Canadian Press

Beauvais, wat in Sechelt, Brits-Columbië grootgeword het, het sy hele lewe lank geglo dat hy ‘n inheemse persoon was. In 2020 het hy ‘n DNS-toets geneem wat aan die lig gebring het dat hy eintlik ‘n mengsel van Oekraïens, Ashkenazi-Joods en Pools was.

Toevallig het Eddy Ambrose se suster, Evelyn Stocki, ‘n DNS-toets in Winnipeg, Manitoba afgelê – byna 1 500 myl weg van Beauvais se huis, wat tot hul skok onthul het dat Beauvais haar biologiese broer was.

Volgens die twee mans se prokureur, Bill Gange, is die fout wat gemaak is een wat verskeie mense se lewens omver gegooi het, maar die regering se verskoning is ‘n stap in die regte rigting.

Foto: YouTube/ The Canadian Press