Eiendomspraktisyns-wetsontwerp bring omwenteling

Handelsminister Lucia Iipumbu het die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê wat die Wet op Eiendomsagente 112 van 1976 sal herroep. Die wetsontwerp poog om die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns te stig, wat die Namibië Eiendomsagenteraad sal vervang om die sake van alle eiendomspraktisyns te reguleer. Die nuwe wetgewing stel ook ‘n nuwe Getrouheidsfonds-sertifikaat voor wat daarop gemik is om beskerming aan verbruikers te bied teen diefstal van geld wat aan ‘n eiendomspraktisyn toevertrou is. Die wetsontwerp plaas ‘n verpligting op oordragprokureurs of transportbesorgers om hulself te vergewis of ‘n eiendomspraktisyn ‘n geldige Getrouheidsfondssertifikaat het voordat enige transaksie uitgevoer en beklink word. Die nuwe wetgewing stel ook die sertifisering van afslaers, eiendomsontwikkelaars en eiendomsbestuurders bekend wat gesamentlik as eiendomspraktisyns bekend sal staan.