Efundja: Vlakke in oostelike, sentrale dele styg steeds

Die Namibiese Hidrologiese Diens sê swaar reën sal vandag in noordelike dele van die land voorkom en behoort vir die res van die week te duur. Volgens die diens, styg die watervlakke in die sentrale en oostelike iishanas steeds en neerslae duur voort in die Cuvelai-bekken se opvangsgebied in die Suide van Angola. Vlakke by Shanalumono, wes van Engela het tot 0,64 meter gestyg met Engela se vlakke op 0,57 meter. Sha Haingu is op 0,45 en Endola is op 0,34. Daar is tans geen invloei in die westelike iishanas aangeteken nie maar, dit kan volgens die diens vinnig verander soos die reën voortduur. Die diens sê verder gebeurlikheidsplanne vir Oshana en Ohangwena is reeds in plek. Die landbouministerie het reeds spanne ontplooi nadat net nege van die 26 vloedmonitering-stelsels nog werksaam is na vandalisme.