Efundja: Sentrum vir kommunikasie geloods

Die Oshana Vloedrisiko-kommunikasiesentrum is amptelik op Oshakati deur die goewerneur Elia Irimari geopen. Die watervlakke in die hoof-iishanas bly hoog, volgens die Hidrologiese Dienste van Namibië. Die watervlak by die Okandjengedi-brug tussen Oshakati en Ongwediva styg vinnig. Gemeenskappe in vloedgeteisterde gebiede moet ekstra versigtig wees aangesien vloedwater aanhou styg. Die kommunikasiesentrum sal as skakel tussen belanghebbendes dien en is die plek waar alle vloedverwante inligting daagliks verskaf sal word, sê Irimari.

Die Zambezi-rivier by Katima Mulilo styg steeds vinnig en die watervlak is tans hoër vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Die Okavango-rivier se vlak neem ook steeds toe. By Ruacana vloei die Kunene-rivier op die oomblik teen 269 kubieke meter per sekonde.