EFF vry na Ace Magashule
Die EFF-leier, Julius Malema, sê die rooi pette praat met Ace Magashule om by die party aan te sluit. Die voormalige ANC-sekretaris-generaal is vroeër amptelik uit die party geskors. Malema sê samesprekings met Magashule is in ‘n gevorderde stadium. Hy sê die EFF sal ‘n aankondiging maak sodra die onderhandelinge afgehandel is. Die EFF-leier sê sy party voer ook soortgelyke gesprekke met ander senior ANC-leiers, maar het geen name bekend gemaak nie. Magashule het vroeër gesê dit is nie die einde van sy politieke loopbaan nie.