EFF: Jong leiers wil nie meer deur Weste beheer word
Die onder-leier van die EFF, Floyd Shivambu, sê hy is vol vertroue dat die hervorming van die wêreld se multilaterale instellings nog in sy leeftyd gaan gebeur. Afrika-leiers wil hê die Verenigde Nasies, die Bretton Woods-instellings, die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank moet hervorm word. Hulle vra onder meer dat Afrika permanent op die VN se Veiligheidsraad verteenwoordig moet word. Shivambu sê die jong Afrika-leiers wat tans hul stemme laat hoor sal dié ideaal kan verwesenlik. Hy sê hulle het reeds die kwessie in die Inter-Parlementêre Unie opgehaal, waar parlemente van meer as 170 lande verteenwoordig word, en het oorweldigende steun daarvoor ontvang. Shivambu sê die nuwe generasie leiers is nie meer bereid om deur Westerse lande se agenda beheer te word nie.