Ecuador is in ‘n penarie na bendeleier uit tronk verdwyn
Ecuador se president Daniel Noboa het ʼn interne gewapende konflik verklaar te midde van ʼn reeks gekoördineerde aanvalle reg oor die Suid-Amerikaanse land. Dit volg nadat gemaskerde, gewapende mans die TC Television-netwerk se ateljee in Ecuador se grootste stad, Guayaquil, tydens ʼn regstreekse uitsending bestorm het. Kykers het gesien hoe die personeel gedwing word om op die ateljee se vloer te gaan lê terwyl ʼn geskree en skote in die agtergrond gehoor word. Die polisiebevelvoerder César Zapata sê 13 mense is gearresteer en voeg by, hulle optrede moet as ʼn daad van terrorisme beskou word. Die moles het begin toe die land se magtigste bendeleier Adolfo Macias, bekend as Fito, uit die gevangenis verdwyn het.