Eagles steeds Nommer Een!

Namibië het sy onoorwonne status behou in sy wedstryd teen Kenia op Dag 6 van die T20 Wêreldbeker kwalifiseerders in Windhoek. By United is Kenia tot 104 vir 6 beperk, met Irfan Karim wat 43 lopies aangeteken het. Namibië se Eagles was in hul antwoord effe in die moeilikheid op 47 vir vier in 8,4 boulbeurte, maar Jan Frylinck met 57 nie uit nie en JJ Smit met 14 nie uit nie het die momentum terug laat swaai. Die Eagles het uiteindelik met 6 paaltjies gewen met 28 balle oor, en is steeds in die eerste plek op die log. Frylinck is aangewys as die speler van die wedstryd. By Wanderers het Zimbabwe, wat 215 vir vier aangeteken het, Rwanda met 144 lopies geklop. Rwanda was almal uit op 71. Sikandar Raza van Zimbabwe was die speler van die wedstryd nadat hy 58 lopies van 36 balle gemoker het.