Eagles klop Chevrons oortuigend

Krieket: Namibië se Richelieu Eagles het hul eerste T20 kragmeting teen die Chevrons van Zimbabwe gemaklik met sewe paaltjies gewen, met 38 balle oor. Dit was die eerste keer dat die twee nasies op Namibiese bodem kragte meet, en daar word nog vier wedstryde in die Castle Lite-reeks by United en Wanderers gespeel. Zimbabwe, wat eerste gekolf het, het 121 vir 9 aangeteken. Namibië het 122 vir 3 in 13,4 boulbeurte behaal. Nikolaas Davin van Namibië, wat onoorwonne was op 80 lopies, is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het vier sesse en agt viere gemoker, en het ook die wenlopies met ‘n ses aangeteken. Namibië se beste bouler was Gerhard Erasmus, wat drie paaltjies laat kantel het vir 15 lopies, in vier boulbeurte.