Duitsland se 1990 Wêreldbeker-held, Andreas Brehme, sterf op 63
Sokker: Die speler wat Duitsland se wendoel in 1990 se Wêreldbeker-eindstryd aangeteken het, Andreas Brehme, is in die ouderdom van 63 oorlede. Hy het ‘n strafdoel in die 85ste minuut teen Argentinië in Rome ingeskop en aan Duitsland ‘n oorwinning van 1-nul besorg. Brehme het sy land 86 keer verteenwoordig en die Bundes-liga met Bayern München en Kaiserslautern gewen, asook Italië se Serie A met Inter Milan. Sy dood, wat aan hartstilstand toegeskryf word, volg ‘n maand ná dié van Duitsland se afrigter tydens 1990 se Wêreldbekertoernooi, Franz Beckenbauer.