Duisende wat opdaag vir ‘n handvol poste word Namibiese norm

Die opkoms van honderde en somtyds duisende werksoekers by persele waar poste geadverteer word, word ‘n algemene voorkoms in Namibië met baie hoë werkloosheid in die land. In die jongste voorval het meer as 2 400 mense opgedaag by ‘n restaurant in Khomasdal waar agt vakante poste geadverteer is. Die mense was so ywerig dat die hek gebreek is en die restaurant moes die bepalings van die poste aanpas na ten minste twee jaar se ervaring om die mense te beheer. Onderhoude, wat gehou sou word, is ook gekanseller. In Oktober 2021 het 800 mense by die Omusati-streeksraad opgedaag vir 39 beskikbare skoonmakersposte by 38 skole. Meer as 3 000 mense het in Oktober 2019 by die Sentrale Hospitaal in die hoofstad opgedaag vir nege vakante skoonmakersposte. Ook in 2019, toe die eerste konstruksie in Junie by die Swapo-hoofkantoor deur die Chinese konstruksie-reus Unik begin is, het honderde opgedaag in die hoop om ‘n werk te bekom, wat onsuksesvol was.