Duisende moes weer vlug in suidelike Gaza
Tienduisende burgerlikes in die ooste van Khan Younis in Gaza het uit hul huise gevlug terwyl Israeliese tenks diep in die gebied opgeruk het, nadat Israel die bevolking beveel het om te ontruim. Die tenks het in die Khan Younis-dorp Bani Suhaila inbeweeg en verskeie distrikte is vir ‘n tweede dag gebombardeer. Israel sê dit is om te verhoed dat Hamas-vegters hergroepeer. “Die situasie is onmoontlik,” het die VN se Palestynse vlugtelingagentskap UNRWA op X gesê. In ‘n latere plasing het dit gesê daar is nêrens veilig in Gaza om heen te gaan nie. Gaza-gesondheidsbeamptes sê die aanvalle sedert Maandag het minstens 80 Palestyne in die Khan Younis-gebied doodgemaak.