DStv sluit ooreenkoms met Paramount Plus
Die Amerikaanse vermaaklikheidsreus, Paramount, het ʼn ooreenkoms onderteken waarvolgens sy Paramount Plus-stromingsplatform deur MultiChoice in Afrika bekend gestel word. Afrika se grootste betaal-TV-operateur het die afgelope twee jaar talle ooreenkomste onderteken wat gestroomde inhoud na sy betalende gehoor bring. MultiChoice-ooreenkomste met Netflix, Amazon Prime Video, HBO, Disney, NBC Universal, Canal Plus, Sky en nou Paramount, sal waarskynlik alle gestroomde inhoud onder een dak vestig sodat verbruikers nie talle subskripsies hoef te hê nie. MultiChoice het dekades lank inhoud van Paramount deur DStv en onlangs ook deur Showmax uitgesaai.