Droogte wurg Amasone-reënwoud

‘n Ernstige droogte het geweldige druk geplaas op die Amasone-reënwoud in Suid-Amerika, wat ‘n vyfde van die wêreld se vars water bevat. Riviere het tot hul laagste vlakke in langer as ‘n eeu gedaal, met ‘n rekorddroogte wat die lewens van honderde-duisende mense ontwrig en die woud se ekostelsel beskadig. Sytakke na die magtige Amasone-rivier wat vinnig opdroog, het veroorsaak dat van die bote gestrand is, wat voedsel- en watertoevoer na afgeleë dorpies afsny. Brasilië se ministerie van wetenskap verwag die droogte sal tot minstens Desember voortduur.