DRK: Tshisekedi behou presidensie

Die Demokratiese Republiek van die Kongo se president Felix Tshisekedi het die verkiesing gewen met meer as 70 persent van die stemme, volgens die land se verkiesingskommissie. Die voorlopige uitslae van die verkiesing op 20 Desember is aangekondig te midde van eise van die opposisie en sommige burgerlike samelewingsgroepe dat die verkiesings oorgedoen word weens massiewe logistieke probleme wat die geldigheid daarvan in twyfel trek. Die verkiesing het ‘n skamele 40 persent opkoms gehad, met sowat 18 miljoen mense wat gestem het. Die uitslae sal na die konstitusionele hof gestuur word vir bevestiging. Opposisiekandidate wat die uitslae teenstaan, het twee dae om hul eise in te dien, en die konstitusionele hof het sewe dae om te besluit. Die finale uitslae word op 10 Januarie verwag, en die president sal na verwagting aan die einde van die maand ingesweer word.