Drikus Coetzee lei in Atlas-bergwedren

Namibië se bobaas fietsryer Drikus Coetzee loop tans voor in die moordende Atlas-bergwedren in Marokko. Die ongesteunde wedren van 1 300 kilometer deur en oor die Atlas-berge het in Marrakesh begin en eindig op die 17de vandeesmaand in die historiese dorpie Essaouira. 228 fietsryers het weggespring en 11 het reeds na drie dae onttrek. Die wedren het slegs drie bemande kontrolepunte en deelnemers is op hulself aangewese, behalwe vir enkele hervoorraadpunte. Drikus het reeds meer as 600km afgelê en is 30km voor sy naaste teenstander. Sy vordering kan lewendig gevolg word op atlasmountainrace.com.