Driedubbelle Grammy-wenner in hegtenis geneem

Die driedubbelle Grammy-wenner, Killer Mike is kort ná gisteraand se prysuitdeling by die Crypto.Com Arena deur die Los Angeles-polisie in hegtenis geneem. Die kletsrymer, wie se regte naam Michael Render is, het pas die gesogte toekennings gewen vir beste rap-album vir Michael, en die beste rap-liedjie en beste vertoning vir Scientists & Engineers. Die 48-jarige kunstenaar is glo aangehou weens ‘n woordewisseling op die perseel, en is later van wangedrag aangekla. Hy is daarna vrygelaat, maar moet later hierdie maand in die hof verskyn.