Drie vermeende stropers sterf in Etosha-vuurgeveg
Drie vermeende stropers is in Etosha dood in ‘n skietgeveg met NamPol se teenstropery-eenheid. Lede van die eenheid het Vrydagaand drie stelle voetspore gevind wat die park deur die heining binnegegaan het. Twee spanne het Saterdagoggend die spore gevolg en die verdagtes het op hulle begin skiet. Al drie is in die vuurgeveg noodlottig gewond. Drie gewere is by hulle gekry, waarvan een ‘n knaldemper gehad het. Hulle het ook materiaal om hulle voete gebind om hul spore te probeer verdoesel. Geen van die eenheid se lede is gewond nie. Die mans se identiteite kon nog nie vasgestel word nie en die liggame is na die Oshakati polielykshuis geneem. NamPol doen ‘n beroep op enigiemand met inligting of vermiste geliefdes om die lykshuis te besoek vir moontlike identifikasie. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met die mag se Oshana-streekbevelvoerder en goue bevelvoerder van Yesa Ongava-teenstropingsoperasie in Etosha Nasionale Park, kommissaris Naftal Sakaria.