Drie oud-SA krieketspelers in arres oor ‘wedstrydknoeiery’
Krieket: Drie voormalige Suid-Afrikaanse spelers is in hegtenis geneem in verband met wedstrydknoeiery gedurende die Ram Slam-uitdaging in die 2015/’16-seisoen. Die inhegtenisneming van Thami Tsolekile, Lonwabo Tsotsobe, en Ethy Mbhalati volg op ondersoeke deur Krieket Suid-Afrika en die Valke. Tsolekile en Tsotsobe het in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn waar die saak tot Februarie uitgestel is. Mbhalati het reeds vroeër die maand voorgekom. Die saak word verbind met die oudspeler Gulam Bodi, wat in 2019 vyf jaar gevangenisstraf opgelê is omdat hy die tussenganger was vir wedstrydknoeiery met Indiese beroepswedders.